Toe hy sy moeder se voetstappe in die gang af hoor aakom, het 10-jaar-oue Blake in die bed ingeduik. Toe sy ma die deur oopmaak, was sy oë toe en 'n warm kombers was opgetrek tot onder sy ken.
“Blake,” het sy ma gefluister. Na 'n oomblik waarin daar geen antwoord was nie, het sy weer probeer. “Blake, ek weet jy is wakker. Ek het gehoor jy spring in die bed.”
Met 'n sug het Blake sy oë opgemaak en regop gesit. “Ja, ek is wakker. Wat wil ma hê?”
Sy ma het op die kant van sy bed gesit, “Ek wil vir jou iets vra. Het jy jou Bybel gelees vandag?”
“Wel, ek was van plan, maar...ek was te moeg vanaand,” het Blake vinnig afgerammel en sy ma se oë vermy.
Blake se ma het in die kamer rondgekyk en 'n oop strokiesprent van sy lessenaar af opgetel. “Dit lyk of jy nie te moeg was om ander dinge te lees nie.” Sy het daardeur geblaai en dit toe vir hom aangegee. “So, wat is die ware rede, Blake?”
“Ma, die Bybel is so moeilik om te verstaan. Buitendien, dit is vervelig!” Blake het die strokiesprent opgehou. “Dit is wat ek 'n opwindende storie noem. Dit het perde, cowboys en baie skietgevegte! Moet ek regtig my Bybel elke aand lees?”
“Ek sê vir jou wat. Ek sal vanaand 'n uitsondering maak en vir jou 'n slaaptyd storie vertel. Hoe klink dit?”
Blake het van opgewondenheid op sy bed gehop. “Reg so!” het hy ge-jippie. Ma se stories is altyd interessant.
“Wel, dit gaan so….”
In 'n land ver hiervandaan, het 'n man genaamd Samma in sy lande gewerk. Hy het lensies, 'n soort boontjie, gekweek. Regoor die groot land het Samma werkers gehad om die plante te versorg. Party van hulle het skopgrawe gehad, party het emmers water gedra en ander het spitgrawe gehad om die grond om te spit. Dit was 'n warm dag en almal was moeg van al die harde werk.
Bokant al die geraas van mense wat spit in die grond, het 'n ander geluid uitgestyg. Een vir een het die mense opgehou werk om in die rigting van waar dit gekom het, te kyk. In die verte het hulle 'n leër gesien aangemars kom na hulle toe. Toe die leër nader gekom het, het die mense in die lensieland gesien dit was die leër van die land teen wie hulle geveg het.
Die Filistynse leër het al nader en nader gekom. Samma se werkers het hulle plaasimplemente neergegooi en in die teenoorgestelde rigting weggehardloop. Hulle was boere, nie krygsmanne nie. Buitendien, hulle het geen wapens gehad om teen soldate te veg nie. Samma, het egter eenkeer gedien as 'n soldaat van Israel. Terwyl hy in die middel van die land gestaan het, het Samma 'n graaf opgetel en 'n uitdaging aan die aankomende leër geskree.
Die kaptein van die leër het gelag vir die man wat alleen daar gestaan het. Hy het vir drie soldate beduie om Samma dood te maak. 'n Paar oomblikke later, het drie manne op die grond gelê en Samma het steeds sy graaf in sy hand gehad en gewag vir nog.
Die kaptein het kwaad geword en nog manne gestuur om teen Samma te veg. Samma het gou met hulle ook afgereken. Met 'n uitroep van woede, het die kaptein op hom afgestorm en die res van die leër gelei om die dapper boer aan te val. Samma se betroubare graaf het soos weerlig geskitter en het 'n swaard hier gekeer en 'n spies daar afgekap, terwyl hy soldate links en regs verslaan het.
Ure later, toe die ander boere teruggesluip het na die lensieland, was hulle geskok om te sien, dat die land bedek was met dooie soldate. In die middel van dit alles, het Samma, die magtige soldaat, gesit en rus.
“Hoe was dit vir 'n storie, Blake?” het sy ma gevra.
“Sjoe, Ma! Ek het baie daarvan gehou. Waar het Ma daardie storie gehoor?”
Blake se ma het 'n stapel strokiesprente van sy lessenaar afgehaal en die Bybel wat onder alles gelê het, uitgehaal. “Ek het dit hier gekry.”
Bake het in verwondering na haar gestaar. “Ma maak seker 'n grap met my, reg?”
“Nee. Dit is alles hier, saam met baie ander opwindende stories. Samma se vriende het elkeen sy eie storie gehad: Adino het op een dag 800 mans met 'n spies doodgemaak en Eléasar, die seun van Dodo, het so baie Filistyne doodgemaak dat sy hand aan die swaard ‘vasgekleef’ het of ‘vasgesit’. En weet jy wat? Dit is nie net stories met avontuur nie. Almal beteken iets. In hierdie een, het Samma opgestaan vir wat reg was, selfs al het niemand anders die moed gehad het nie. Ons moet sy voorbeeld volg en opstaan vir wat ons weet wat reg is.”
“Kan Ma vir my wys waar die storie is?”
Sy moeder het deur die bladsye geblaai tot by Tweede Samuel, hoofstuk 23, en gewys na verse 11-12. “Hoekom wil jy weet?”
Blake het sy Bybel by sy ma geneem. “Ek wil die volgende storie lees voor ek gaan slaap.”
“Ek dog die Bybel is vervelig.”
Blake het geglimlag. “Wel, miskien het dit 'n paar goeie stories in.”
Sy ma het terug geglimlag. “Ek gaan bed toe. Goeie nag.”
“Goeie nag, Ma,” het Blake geantwoord en nie eers opgekyk toe sy ma die kamer verlaat het nie.
DINK!
1. Watter soort boontjie word in die storie genoem?
2. Wie het die teen die Filistyne geveg tot sy hand aan die swaard vasgesit het?
3. Watter leër het teen Israel geveg?
4. Wat was Samma se twee beroepe?
5. Watter wapen het Samma gebruik?
ONTHOU!
Onthou om sterk te staan en nie die vyand te laat steel wat regmatig joune is nie.
'N VERS OM TE LEER
“Jy moet soek na waarheid, jy moet dit nie los nie, jy moet wysheid kry, jy moet leer en verstandig word” (Spreuke 23:23).
ALTERNATIEWE VERSE OM TE LEER
“Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus. Aan Hom kom die heerlikheid toe, nou sowel as in die dag van die ewigheid. Amen” (2 Petrus 3:18).
“Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is 'n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart” (Hebreërs 4:12).
PRAKTIESE TOEPASSING
Het jy al ooit gehelp om groente of blomme in 'n tuin te plant, nat te maak en die onkruid uit te trek? Dit verg baie harde werk om ryp groente en pragtige blomme te kry. Kan jy aan 'n paar probleme dink wat jy dalk sal teëkom? Wel, jy moet die harde grond omspit en sorg dat jy goeie saad plant. Dan het jy die taak om die klein plantjies te beskerm teen insekte en gediertes soos voëls en hase. Jy moet ook waak teen slegte weer. Iemand kan selfs probeer om van die groente of blomme te steel, net soos in vandag se storie.
Dink aan jou verhouding met Jesus as 'n tuin. Kan jy aan 'n paar dinge dink wat sleg kan wees vir jou verhouding met Jesus? Kan jy aan maniere dink om jou geestelike groei te beskerm?
[Na bespreking:] Die duiwel wil hê jy moet sondig, want sonde besoedel altyd jou verhouding met Jesus. God wil hê jy moet sterk staan teen sonde en versoeking weerstaan. Samma het waarskynlik 'n graaf of swaard gebruik om teen die vyand te veg en te oorwin. Wat kan jy as 'n wapen teen sonde en versoeking gebruik? Dit is reg. God het vir jou die Bybel gegee as jou wapen. Daar is baie verse in die Bybel wat jou kan help om goddelose gedagtes, onheilige gevoelens, slegte gewoontes en verkeerde gesindhede te oorkom. As jy byvoorbeeld swak voel, sê die Bybel jy is sterk en meer as 'n oorwinnaar in Jesus. As jy kwaad is vir iemand, sê die Bybel jy moet leer om te vergewe.
Met watter dinge sukkel jy? Leer om verse in die Bybel te vind wat vir jou sê hoe om hierdie probleme te hanteer. Moenie huiwer om hulp te vra van iemand wat die Bybel ken nie. Bid altyd oor alles wat jou pla en vra God om jou te help om elke probleem wat jy het te bowe te kom. Samma het nie net vir homself geveg nie, maar ook vir sy mense. Om te onthou wat jy uit die Bybel leer, leer dit vir jou broers en susters en vriende sodat hulle ook sterk in die Here kan word. Die sleutel is om elke dag die Bybel te lees en te bid, al is dit net vir 'n kort rukkie.
LAAT ONS BID
****************************************************
Liewe God, baie dankie dat U vir my U Woord,
die Bybel, gegee het. Help my om te onthou om
elke dag 'n stukkie te lees en help my om te verstaan
wat ek lees. In Jesus se Naam bid ek. Amen.
****************************************************
KAN JY HIERDIE STORIE IN DIE BYBEL VIND?
2 Samuel 23:11-12